Die Legende van Rensburgkop

Hierdie legende is geskryf deur Leon Strachan en gepubliseer in die kontrei koerant Maluti Berg en Dal.

Rensburgskop

Die erg onstellende storie van die pa wat sy seun in ‘n klipskeur moes doodskiet om hom ‘n verskriklik pynlike lyding en uiteindelike dood te spaar, was een wat ek saam met moedersmelk ingekry het en waarmee ek grootgeword het.

Ons bly naby Rensburgkop en het ten minste elke tweede Sondag daar verbygery op pad om by my Engelse oupa en ouma op Rainfall te gaan eet. Ek het altyd grootoog opgekyk na die hoë dramatiese gekeepte sandsteenkroon en met ‘n hol kol op die maag gewonder in watter skeur die neerdrukkende storie afgespeel het.

Van Rensburg en sy opgeskote seun het glo ‘n bok vir die pot gaan skiet. Hulle het aan die oostekant van Rensburgkop ‘n troppie rooiribbokke gekry. Die eerste skoot was rakelings mis en die bok het blitsvinnig voete gekry. Pa en seun volg die bokke teen die vloethewel aan die suidoostelike hoek van die loop op, maar die diere swenk vlugvoetig nog hoër teen die kop uit. Die tweede is uitasem agterna tot bo. Die bokke is skaam, Van Rensburg kry egter sy skoot in. Hy kwes die bok swaar, maar die seun sit die hinkende bok agterna. Net toe hy na die bok gryp swenk dit op die rand van die kop skielik wes. Die seun se momentum bring hom tot op die rand, waar hy sy balans verloor en vooroor val. Hy tuimel gillend seker ‘n goeie honderd en tagtig voet daar af.

‘n Erg getraumatiseerde Van Rensburg sien hoe sy kind deur die lug trek en met ‘n siek slag in ‘n skeur land. Gelukkig leef die kind, want hy kreun en huil en skree van die pyn. Hy probeer waansinnig vinnig afklim, maar dis regaf, en hy kom nêrens nie. Hy probeer van die kant af daar kom, en toe van onder af, maar dis ‘n onmoontlike plek – en sy seun lë in ‘n eienaardige posisie, sy rug waarskynlik af.

Helpers en osrieme is haastig gehaal. Van Rensburg is vasgewoel en versigtig oor die krans laat sak. Hy probeer naarstigtelik om onder die effense oorhang in te swaai en sodoende op ‘n lysie te beland waarvandaan hy by sy kind sou kon kom, maar dit was pure verniet. Teen laatmiddag word die seun se kreune al flouer en die aasvoëls begin draai. Naderhand is daar nie meer planne nie. Die genadeskoot klap, ‘n ouer se loodsware hart sou nooit weer herstel nie.

***

Boonop was CM van den Heever se Waar Ruwe Rotse destyds, in my sentimentele tienerjare, ‘n mooi en aangrypende gedig wat realiteit en beelde van die storie opgetower het.

Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo ‘n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip ‘n voet en drillend val ‘n roer…
‘n skerp geskuur – ‘n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp ‘n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward…sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

‘n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind…en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs…die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by…die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet…en nou…”

‘n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans ‘n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”…’n skoot gedemp en dof…
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil…die aasvoëls kras…’n vader staar.

***

Met die skryf van Abe Sparks se storie in Blafboom (1999) soek ek na verwysings vir die Rensburgkop-legende. Daar is geen gerapporteerde weergawe van die verhaal in die destydse Harrismith News (tot 1903) of die Harrismith Chronicle (sedert 1903) nie. Ook geen rekord daarvan in die twee uitstekende geskiedenis bronne van ons omgewing (FA Steytler se Die Geskiedenis van Harrismith of Blanche Hawkins se The Story of Harrismith) nie. Inteendeel, Hawkins verwys daarna, noem dat sy ook geen bewyse daarvan kon kry in haar navorsing nie en spekuleer dat dit kroegstories is.

‘n Soeke na ‘n Van Rensburg wat in die geweste geboer het, was ook vrugeloos. Die landmeter (gewoonlik van Britse, Duitse of Nederlandse herkoms) wat die plaas in die 1850’s afgemeet het, het waarskynklik van Rynsburg (Nederland) of Rendsburg (Duitsland) af gekom en vandaar die naam.

In D J Opperman se Junior Verseboek merk die samesteller op dat dit ‘n volksvertelling is wat in die bergstreke van verskillende dele van Suid-Afrika voortleef. In een van die studiereekse oor daardie Junior Verseboek word gesê dat ‘n ou en bekende legende deur Van den Heever spannend verhaal word.

In ‘n onlangse bespreking van die storie op Facebook het baie mense gereageer. Almal ken die storie, maar verskil dramaties oor waar dit plaasgevind het. Die volgende plekke is genoem: Volksrust, Danielsrus naby Bethlehem, Kogmanskloof (tussen Bonnievale en Montagu), naby Montagu in Ashton (Winterhoekberge) Golden Gate, Rensburgskop en Gordon Rots in Paarl Berg.

Van den Heever het glo sy gedig op ‘n verhaal wat in Smithfielddistrik by Aasvogelkop, naby Gladdedrif (Caledonrivier) oorvertel word, gebaseer. Dit wil voorkom asof die legende die prominentste by Aasvogelkop en Rensburgskop is.

‘n Ander bekende Van Heerden, Ettienne, se Toorberg is klaarblyklik ook deur die legende geiinspireer (‘n vader skiet sy seun wat in ‘n boorgat vassit).

In ons geweste is die legende van Rensburgkop wyd bekend en word dit sonder bevraagtekening geglo, van Johannesburg af met die N3 langs tot in Durban. In so ‘n mate dat die SAUK destyds die drama The Mountain, wat oor die legende handel, hier geskiet het met Sandra Prinsloo in die rol van die seun se ma. Die filmspan het in die plaas Stirling (net oos van die kop) se woonhuis gebly tydens die verfilming.

Alles dui daarop dat dit ‘n sogenaamde ‘urban-legend’, of stoepstorie, is.

 

Dankie aan Biebie de Vos vir ‘n fotos wat ons gebruik het en ook fotokrediet aan die Bald Ibis staproete.

Tot ‘n volgende keer

Hennie & Sandra

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s