Stoepstorie 16: Die Lighuis

Dis warm en droog in die Noord-Wes Provinsie van Suid-Afrika. Ons het nog nie ‘n dag beleef onder 30oC nie. Daar is sulke warm Weste winde wat waai en alles verdor. Die boere se vee moet voer kry en elkeen maak ‘n plan en kyk na die wolke en buig laag en pleit by die Groot Genade vir reën op die regte tyd.

So in die week sit ons op die stoep en warm kry. Ons bekyk die voëls in die tuin. Die Indian Myna paradeer ook op en af en intimideer die ander geveerde gaste. Dit is toe dat ons opmerk dat die Myna kort-kort hoog, na die ou Spoorweë Werfligte, toe vlieg. Jou werklik daar is ‘n gat in die lig en die paartjie is besig om huis op te sit binne in die lig. Die ligte staan so ongeveer 10 meter hoog.

DSC_0066

Ons hou hulle dop en besluit dat die ligte seker ‘n tipe broeikas vir Myna’s moet wees. Dis ‘n heen en weer gevlieg en alles waarop hulle beslag kan lê word ingesleep in die nes. Net so skielik as wat die gewoel begin het, kom dit tot ‘n end. Dan word kossies aangedra, wat weer bydra tot ‘n ander bedrywigheid.

Vroeg oggend is daar egter ‘n lawaai van ‘n ander aard. Die lighuis is in rep-en-roer. Ons opmerking is dat daar huismoeles is. Moeksie is nie tevrede met die omstandighede en vereis ‘n lugversorger. ‘n Geskree en gegil wat baie benoud klink.

DSC_0125

Jou werklik daar hang groot vere by die gat uit. Die een Myna is binne-in die lig en die ander buite. Altwee gaan te kere soos besetenes. Die vraag by ons ontstaan sou dit nou deel van die landsbesetting-sonder-vergoeding, wat op almal se lippe is, wees?

Die Myna’s gaan nie net sommer oorgee nie. Beide veg vir hul toekoms. Die aanval duur ongeveer 4 ure in ‘n temperatuur van 35oC. In hul lighuis was dit verseker baie warmer. Dan teen middag-ete kom daar ‘n wending. Die nes is nou weer toeganglik vir beide die Myna’s. Kossies word aangedra en die heen en weer gevlieg neem toe. Die vrede daal weer op Mnr en Mev Myna se Lighuis.

Nou wonder ons wat was die bohaai dan oor. Die antwoord kom sommer skielik wanneer twee voëls uit die lig aarde toe kom. Dit het my aan ‘n ou oorlog-fliek laat dink wanneer die Fokkers so op hul vyande afgeduik het. Die grootste van die twee land met ‘n plof onder die lig. Dis ‘n heelwat groter voël. Dit is ‘n Koekoek.

Die Afrikaanse koekoek is ‘n somertrekvoël. Dit is tussen 30 – 32cm lank en 95 – 112g groot. (African Cuckoo). Die voël is ‘n broeiparasiet en gebruik ander voëls as broeigasheer.

DSC_0169

Tot volgende keer

Sandra

Stoepstorie 15: Wanneer ‘n lokomotief ‘n hulproep gee.

So op ‘n snikhete dag hoor ons ‘n trein aankom. Dis ‘n vriendelike treindrywer, want soos hy aankom word die toeter (of is dit nou ‘n fluit) geblaas. Niks ernstig, so ‘n versigtige toet toet. Dit het my nogal aan die tjoetjoe laat dink.

Ons nuuskierigheid kry die oorhand, want alhoewel ons langs ‘n spoorlyn woon is treine nogal skaars.

Die trein kom so stadig nader. Kan ek maar sê hy bekruip ons huis, so amper hinkepink kom hy nader. Dis net twee lokomotiewe. Die een aan die voorkant is blou en die ander ene is oranje. Julle weet amper soos die ou landsvlag.
DSC_0006
Die drywer en sy assistent het omtrent uitgebraai in die kajuit so in die hitte van die stryd. Geen instrument werk nie. Hennie lag, want toe hulle vra vir water gaan haal hy ‘n bottel koue water met glase uit die yskas. Dis toe dat hulle van hul delema vertel.
Nee hulle soek meer water – vir die lokomotief. Die lokomotief het hulp nodig. Die dieselengin kook – julle weet soos wanneer ‘n kar se waterverkoeler lek en die motorengin te warm word.
Die tuinslang word nader gesleep en op die drukpomp gekoppel. Hennie raak bekommerd en wil weet hoeveel water die kragtige masjien nou nodig sal hê? Daar word geskert en gelag stastieke word uitgeruil. Die drywer vertel dat die vrag agtergelaat is en hulle dit weer gaan hak wanneer die lokomotief ‘n bietjie gelawe is.
DSC_0013
Deure soos groot soos hekke word oop gemaak. Die lokomotief sluk lustig aan die koel boorgatwater. Dan word die engin aan geskakel en die aarde maak so ‘n trilling onder ons voete. Nog water word gesluk deur die blou monster.
DSC_0015
Dan kom die teken dat daar nou genoeg water in die tenk is. Die tuinslang word weer terug tuin toe gestuur. Die pomp word afgeskakel en die dag se opwinding is verby.
Die trein het sy vrag gaan hak en met die tweede verbykom slag het dit vriendelik gefluit en verby gegalop.
Groetnis tot volgende keer.
Sandra