Kameel Stoepstorie: Kameeldoringbome

Soos julle weet het ‘n Kameeldoringboom yslike dorings. Vir ‘n klein dogtertjie is dit sommer allermintige dorings. Onthou tot vandag dat ‘n doring in die sagte deel van my voetsool gesteek het.  Dit het gereën en ons het in die water geloop. Die nagevolg was pynlik. Ma Floss het alles probeer maar die doring het vasgesuig vir dae. Vandag nog is die letsel onder my voet die bewys van die pyn en lyding.

n Kameeldoringboom of dan Vachellia Erioloba se dorings van naderby. 

In Suid-Afrika is die Kameeldoringboom is ‘n beskermde boom. Dit lewe vir baie jare. Van die bome op die plaas was daar toe ons as klein kinders daar kom woon het. Niks krap hulle omstandighede om nie. Nie droogte of baie reën nie. Die penwortel roei baie diep en die maksimum van so ‘n penwortel is 68m.

Die Doringboom verskaf kos, skuiling, plek vir die vee en voels. Dit het ook medisinale voordele vir die mens. Pierneef het graag die bome geskilder.

Groot erkenning word aan die webtuiste gegee vir die skildery naamlik die Dyman Gallery

Jare gelede wou Pa Gerald ‘n boom uithaal wat in die pad was van ‘n ontwikkelling. Die trekker – nogal met so ‘n dakkie – en kettings is ingespan. Die trekker het gekreun en gesteun, maar toe die ketting breek en amper vir Ouboet teen die kop tref  Pa oorgegee. Die boom staan nog vandag heel gemaklik op sy plek.

Die kameeldoringboom wat die stryd teen ‘n trekker en ‘n ketting gewen het.

Die boom dra die mooiste grys peule. As jy desperaat genoeg is kan jy die peul oopbreek en die swart sade uithaal en fyn maal en gebruik as ‘n plaasvervanger vir koffie. Die fyn gemaalde saadpoeier is ook glo goed vir oorinfeksie. Gebrande as van die bas van die boom is goed om ‘n hoofpyn te genees. Die sade word ook gebruik as ‘n voer vir die vee. Die gesegde lei dat ‘n Kameeldoringboom nie sal groei voordat dit deur die maag van ‘n bees gegaan het.

Die peule met hul sagte grys kleur.

Die bygelowe het ook nie die Kameeldoringboom verby gegaan nie. Daar word geglo dat weerlig eers ‘n doringboom sal slaan voordat dit anderbome sou raak slaan. Die storie glo ek swaar. In ons jong dae het die weer 14 van Ma Floss se beeste onder die Kareebome dood geslaan. Die Kameeldoringboom was ongeskonde.

Die Versamelvoëls maak maak masiewe neste in die Kameeldoringbome. Die nes lyk soos ‘n groot hoop gras wat in die boom sit.  Wanneer jy onder die “hooimied” staan sien jy die ingange na die verskillende kamers. Dit lyk nogal soos ‘n heuningkorf. Honderde families woon in so ‘n nes en dit is ‘n gesig om van nader te beskou. Hierdie neste word vir generasies van voëls bewoon.

Ons huis is natuurlik in die skadu van ‘n Kameeldoringboom gebou.

Tot volgende keer

Sandra

Kameel Stoepstorie: Die Lighuis

Dis warm en droog in die Noord-Wes Provinsie van Suid-Afrika. Ons het nog nie ‘n dag beleef onder 30oC nie. Daar is sulke warm Weste winde wat waai en alles verdor. Die boere se vee moet voer kry en elkeen maak ‘n plan en kyk na die wolke en buig laag en pleit by die Groot Genade vir reën op die regte tyd.

So in die week sit ons op die stoep en warm kry. Ons bekyk die voëls in die tuin. Die Indian Myna paradeer ook op en af en intimideer die ander geveerde gaste. Dit is toe dat ons opmerk dat die Myna kort-kort hoog, na die ou Spoorweë Werfligte, toe vlieg. Jou werklik daar is ‘n gat in die lig en die paartjie is besig om huis op te sit binne in die lig. Die ligte staan so ongeveer 10 meter hoog.

DSC_0066

Ons hou hulle dop en besluit dat die ligte seker ‘n tipe broeikas vir Myna’s moet wees. Dis ‘n heen en weer gevlieg en alles waarop hulle beslag kan lê word ingesleep in die nes. Net so skielik as wat die gewoel begin het, kom dit tot ‘n end. Dan word kossies aangedra, wat weer bydra tot ‘n ander bedrywigheid.

Vroeg oggend is daar egter ‘n lawaai van ‘n ander aard. Die lighuis is in rep-en-roer. Ons opmerking is dat daar huismoeles is. Moeksie is nie tevrede met die omstandighede en vereis ‘n lugversorger. ‘n Geskree en gegil wat baie benoud klink.

DSC_0125

Jou werklik daar hang groot vere by die gat uit. Die een Myna is binne-in die lig en die ander buite. Altwee gaan te kere soos besetenes. Die vraag by ons ontstaan sou dit nou deel van die landsbesetting-sonder-vergoeding, wat op almal se lippe is, wees?

Die Myna’s gaan nie net sommer oorgee nie. Beide veg vir hul toekoms. Die aanval duur ongeveer 4 ure in ‘n temperatuur van 35oC. In hul lighuis was dit verseker baie warmer. Dan teen middag-ete kom daar ‘n wending. Die nes is nou weer toeganglik vir beide die Myna’s. Kossies word aangedra en die heen en weer gevlieg neem toe. Die vrede daal weer op Mnr en Mev Myna se Lighuis.

Nou wonder ons wat was die bohaai dan oor. Die antwoord kom sommer skielik wanneer twee voëls uit die lig aarde toe kom. Dit het my aan ‘n ou oorlog-fliek laat dink wanneer die Fokkers so op hul vyande afgeduik het. Die grootste van die twee land met ‘n plof onder die lig. Dis ‘n heelwat groter voël. Dit is ‘n Koekoek.

Die Afrikaanse koekoek is ‘n somertrekvoël. Dit is tussen 30 – 32cm lank en 95 – 112g groot. (African Cuckoo). Die voël is ‘n broeiparasiet en gebruik ander voëls as broeigasheer.

DSC_0169

Tot volgende keer

Sandra

Kameel Stoepstorie: Kalkoene en Arende

Ma Floss het ons geleer van kalkoene. Die kalkoene sou die inkomste aanvul wanneer die reën wegbly. Klein kalkoentjies is groot gemaak en saans moes die kalkoene in die hok gejaag word.

DSC_0150

Nou ‘n kalkoen is ‘n groot voël. Die mannetjies het ‘n uitgroeisel of lel wat van die bokant van die snawel hang. Die mannetjies is groter en kleurryker dan die wyfies. Die mannetjie pronk en sleep vlerk. Die geluid wat hulle maak is koel-koel.

DSC_0172

Saans wanneer die son sak was dit ons kinders se werk om die kalkoentrop hok toe te jaag en seker te maak dat almal agter die hek vir die nag is. Jakkalse wat baie lief vir Ma se kalkoene en ‘n kalkoenwyfies sou sommer so van die nes gevreet word. Ons moes seker maak dat die kalkoene hoek toe kom laat middag. Dit was makliker gesê as gedaan. Elkeen sou in ‘n ander rigting hardloop. Dit is toe dat ons uitgevind het dat as jy ‘n sirkel met jou voet op die grond trek sit die kalkoen doodstil in die sirkel. Te bang om te roer. Dit het dinge aansienlik makliker gemaak. Ons het ook geleer dat jy ‘n kalkoen kan koggel deur koel-koel te roep en die mannetjies sou saam sing en pronk. Hulle wag vir hulle kos in die hok. Gelukkig kan kalkoene nie vllieg nie. Hulle skrop in die grond. Wanneer ‘n storm kom hardloop kalkoene hokke toe. Hulle kruip weg. Alhoewel kalkoene op baie tafels beland eet ons nie kalkoen nie.

DSC_0143

Arende daar in teen is anders. Dis die vinnigste voël in vlug. Hy kan ver en wyd sien. Hy vreet nie aan aas nie. Hy styg op sonder ’n aanloop. Arende vlieg die hoogste van alle ­voëls. Hulle styg bo storms uit.

Eagle_Crowned_Ocean_View_South_Coast_KZN_South_Africa
Dankie aan The Falks vir die foto

Die arend is die enigste voël wat direk in die son kan kyk. Arende word taamlik oud. Hulle vlieg na die hemele toe wat anders is as enige ander voël. Jy sien die arend lig sy oë op na bo. Hy lig sy oë op na die hemele. Die arend vlieg die son in ….. !!

arend 3-001.jpg
Dankie aan Arend van der Walt vir die pragtige foto

Die vraag is wat doen ek en jy?

Is ons n kalkoen of n arend?

Kalkoene hardloop en gaan kruip weg maar arende vlieg hoër as die probleem … afgesonderd ……. op na die hemel toe.

Kalkoene hardloop rond as daar probleme is.

Arende spreek lewe en sien ‘n storm as ‘n geleentheid. Hulle rig hulle fokus na bo en vlieg nader na hulle Beskermer toe.

Jy sien wanneer ‘n arend opmerk ‘n storm is oppad maak hy sy vlerke wyd oop en hy daag die storm uit

arend
Dankie Totemdieren vir die foto

Ons is nie kalkoene wat die hele wêreld rondharloop op soek na ons eie nessies nie… nee ons is arende wat ons vlerke oopsprei en “Catch the wind!

Dink net – as die arend só kragtig is, hoeveel te meer is jy as mens nie?

Tot volgende keer

Sandra

Kameel Stoepstorie: Ouma Barlow en die dorp Stella

Die dorp Stella het wonderlike kinderdae herinneringe vir my. In besonder Brandstraat. Dit was die straat waarin Oupa Jimmy en Ouma Sannie se huis was. Nommer 10. Vandag lyk Brandstraat heel anders as wat my kinderdae se onthou dit voorgestel het.

DSC_0129
Brandstraat

Oupa en Ouma se huis was wit geverf en het so ‘n wye voorstoep waarop Oupa Jimmy graag gesit het en die wêreld bespiet het. Oupa het so ‘n skaaphak kierie gehad waarmee hy jou sommer so nader gehak het. Dit is die straat wat gelei het na die ou klipsaal. Die straat het sommer net daar by die klipsaal gestop. Vandag sou ons praat van ‘n cul-de-sac, maar daardie dae was dit ‘n vreemde woord. Die saal was die middelpunt van die dorp. Dit is nou naas die kerk. Daar was konserte en vergaderings gehou en natuurlik ook het die Vroue Landbou Vereniging hul vergaderings gehou. Ouma Sannie was ‘n raakvatter tussen die vroue van die VLV.

Stella klipsaal.jpg-001
Die Klipsaal word vandag gebruik as ‘n stoor deur die Munisipaliteit.

Brandstraat se huise het elkeen sy eie styl gehad. Almal was wit geverf. Almal naby die straat. Sommer so naby genoeg dat jy met die uit loop slag in die straat was. Daar was die Celliers huis op die punt naaste aan die klipsaal. Die huis het ‘n stoepie tussen die twee kamers wat soos vleuels op die stoep uit geloop het. gehad. Dan was daar die huis met die geboogde sinkplate oor die stoep. So ‘n regte Karoo-styl stoep. Die stoep waarop die oompie sy pyp gesit en rook het. Die hoekhuis lyk vandag nog baie dieselfde. ‘n Lekker stoep met die lae muurtjie.

Die water in Stella is brak want die soutpan lê naby die dorp. Vir baie jare is hier sout ontgin. Ongeag die brak water was daar heel party windpompe in die dorp, want almal het groentetuine gemaak. Ouma Sannie het ‘n Lemon Verbena by die agterdeur gehad. Dit was ‘n fees om die blare tussen ons hande te vryf en dan die reuk vir die hele dag saam te dra. ‘n Lekker vrugteboord was oupa se pride and joy. Die ingelgde geelperskes met dik vla, was ons kinders se gunsteling.

Oupa en Ouma was altwee kinders van die Willowmore, Patensie en die Gamtoos, soos Oupa het altyd na die Kolonie verwys as sy grootword wêreld gepraat het. Hy en Ouma het mekaar van kindsbeen geken. Hy het die plaas Langverwagt naby Kameel gekoop. Op hul oudag het hulle op Stella afgetree.

Ouma het geduld gehad met ons. Sy het die fynste kant hekel met sulke fyn gare en ‘n blink hekelpen. Dollies was ‘n groot gunsteling. Elkeen het die mooiste glaskrale gehad. Dit het geklingel wanneer sy die koffie ingebring het en dit oor die melkbertjie daarmee toegemaak was. Sy het geduld gehad om my te leer hekel – hotklou en al.

Die kombuis het ‘n houttafel gehad. So wit geskrop naby die koolstoof. In die eetkamer was ‘n bal-en-klou tafel wat ‘n verlengstuk gehad het. Op Sondae was die tafel gedek met ‘n gehekelde tafeldoek en haar beenhef eetgerei. Sy sou op ‘n oggend bel en sommer so terloops sê dat sy my pa se gunsteling skaapboud gaar gemaak het en ons moes oorkom vir ete. Sy kon selfs haar skoonseun onder ‘n wip vang met haar kos wat altyd vol verrassings was. Wanneer dit vetkoekdag was, was dit wonderlik om die vormpies van die vetkoeke in die olie te probeer assosieer met ‘n diertjie. Eendjies en hasies was altyd ‘n reg raai.

Ouma het lang hare gehad. Sy het dit in ‘n lang vlegsel aan die eenkant van haar kop gevleg en dan om haar kop gedraai. Na Oupa oorlede is en Ouma by haarself gewoon het, het die dogters op ‘n dag besluit – Ouma se hare moes kort geknip word. Wat ‘n tragedie was dit. Ouma kon nooit met die kort hare vrede maak nie. Ek het baie dae my tas gepak om by ouma te gaan bly maar het maar elke keer weer terug gekom huis toe.

Ouma Sannie het ook die swaar van die lewe geken. Haar een dogtertjie is oorlede en twee van Ouma se seuns is tydens WWII oorlede. Ek het altyd gewonder hoe sy dit oorleef het want daar was altyd ‘n glimlag op haar gesit.

P432_AUX_2000_1601
Oupa en Ouma met hul kinders op hul 50ste huweliksherdenking

Ouma het nog in die tyd van briewe skryf gelewe. Onlangs het ek hierdie stukkie kosbaarheid van ‘n niggie ontvang. Die brief is gerig aan haar suster, Tant Pollie, wat in Uitenhage gewoon het. Die inhoud is kosbaar!

Tant Sannie Brief P1

Tot volgende keer

Sandra

Kameel Stoepstorie: Devondale tot Kameel

Al ooit gehoor van Devondale?

Die stasie is 25km vanaf Kameel. Vandag is daar min oor van die eens tuiste en besigheid van my Oupa Victor en Ouma Hester. Na hulle huwelik het hulle Devondale Store besit en in die huis langs die winkel gewoon. In die goeie dae van Devondale was daar die watertenks waar die stoomtreine water gevat het. Ek onthou nog die ou Convent wat een van die groot geboue in die omgewing was.

Devondale-1

Wanneer daar by die familie op Kameel gaan kuier is, het oupa en ouma met die motorfiets en side-car gery.

IMG-20180505-WA0006
Oupa Victor op die motorfiets reg om die pad te vat Kameel toe, maardaar was darem tyd vir ‘n foto sessie.

IMG-20180505-WA0005_resized
Dan was dit Ouma Hester se beurt in die syspan. Sou wat wou gee om daardie hoed van nader te kon besigtig.

Motorfiets 1
Ouma op die motorfiets. Kyk die leer kamaste. In my opinie sien ons altyd ons oumas en oupas as baie streng maar as ek so na die foto’s kyk haal ek my hoed vir hulle af. Niks kon hulle onderkry nie.

Ek is seker hulle het by al die bekendes van die omgewing gekuier. Aunt Ethel (oupa se suster) en Uncle Rex Collins het, net oorkant die spoor op Devondale, gewoon. Ek is seker dat daar ook gekuier is by Uncle Alfi and Ant Nellie Fincham, wat op Kinderdam gewoon het. Ook onthou ek die Starkes van Curnow. Daar was die Barlow’s (my ouma en ouma aan moederskant) van Langverwag.

Pa Gerald het altyd vertel van die spook op Devondale – ouma en oupa het na die 4 uur tee gaan stap. Toe hulle terug kom was die tafeldoek onder die koppies en teepot uitgetrek en bo-oor alles gegooi, sonder dat iets uit sy plek was. Daar was natuurlik die fosfor-ligte op die drade waarvan Ma Floss vertel het.

Victor en Hester September 1940
Groot-Oupa Alfred Ernest is in 1937 oorlede en Oupa en Ouma Fincham het toe Kameelbult toe getrek.

DSC_0424-1
Die dae op die plaas was gevul met daaglikse plaas aktiwiteite. Die eerste trekker was ‘n groot aanwins.

IMG-20180427-WA00242
Die dorsmasjien

Kameel het ‘n winkel gekry – Mr McKay se winkel. Mr McKay was natuurlik Tannie Glen se pa. Hy het vir jare die winkel besit, maar die beste was die stories oor die mak kraanvoël, Jock, wat almal gejaag het.

IMG-20180427-WA00312
Oom Ernest en Tannie Glen op hul troudag. Tannie Glen was ‘n legende in die plaaslike poskantoor waar sy vir jare gewerk het.

Die winkel is later jare deur Oom Daan en tant Lizzi bedryf. Nadat hulle vertrek het, het oom Russel en tannie Corrie Olewage die winkel bedryf. Later jare sou my ouers die winkel bedryf. Nadat hulle genoeg gehad het, het Patrick, my broer die winkel bedryf en later jare het hy dit verhuur. Toe die laaste huurders van die winkel hom, na vele kere gesoebat het om die winkel terug te neem, het hy die bul by die horings gepak en die deure van Wilrick Kontrei winkel geopen.

10609518_299227970263392_6896958083855982817_n
Kameel se “Mall” ‘n kontrei-winkel, posagentskap, ATM en die bottelstoor

Daar was ook die Italiaanse kryggevangenes wat op die plaas kom uithelp het na die Tweede Wêreld Oorlog. Pa Gerald het hulle by Zonderwater gevangenes gaan haal en weer teruggevat. Renato het vir baie jare kontak met die familie gehou.

IMG-20180427-WA0047

IMG-20180427-WA0033-1
My Pa, Gerald staan links

IMG-20180427-WA0033-3
Pa Gerald, Oupa Victor, Ouma Hester, Jean voor en die Italiaaners.

Oupa Victor is in 1954 oorlede en ouma het die Cafee langs die treinspoor begin.

Kameel is een van die dae ek en Hennie se nuwe tuiste ons hoop om in die voetspore van ons ouers, groot-ouers en geliefdes te kan stap.

Tot ‘n volgende keer

Sandra en Hennie

IMG-20180427-WA0033-2

Kameel Stoepstorie: Kameel Huise tussen treine en tussen spore

Liewe Ma – Florence of soos ons haar geken het as Floss het 5 huise langs die spoorlyn op Kameel besit. My Pa – Gerald het die huise op 9 Maart 1999 gekoop van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens.

579656_461924920542381_146491828_n

Die spoorlyn tussen Vryburg en Mafeking is eers in 1894 gebou, ná Stellaland en Goosen nie meer bestaan het nie, Cecil John Rhodes, het toentertyd reeds ‘n droom gehad om ’n spoorlyn van die Kaap na Cairo te bou, en hy wou hê dat dit deur die area moes loop want hy het die De Beers Diamantmynmaatskappy gestig en wou ‘n treinroete na die noorde laat loop sonder om deur die ZAR se grondgebied te gaan.

Kameelstasie was dus deel van die Kaap na Cairo projek en is in 1894 op my groot-ouers se plaas Kameelbult gebou. In 1999 is my Pa genader om die huise terug te koop en die titelakte nr T796/1999 is geregistreer op Florence se naam.

DZO11r0XUAA9QBj
Kameel is een van daardie klein dorpies op die R377. Dit was eens ‘n besige spoorlyn wat graan en reisigers vervoer het. Daar is ‘n laerskool en twee kooperasies waar jy saam met die boere van die omgewing kan koffie drink en die weer bespreek. Kameel Rust en Vrede gaste akkommodasie is naby die ou Kameel treinstasie geleë. Ongelukkig is die ou stasie gebou gesloop. Tot jou verbasing sal jy Wilrick Kontrei winkel met ‘n bottelstoor ook hier kry. Hier kan jy die nodige proviant kry. Met sekerheid kan ons hul vetkoek aanbeveel en saam met ‘n koue Lager uit die bottelstoor is dit ‘n wenner.

‘n Stukkie geskiedenis van Kameelstasie wat ek by Jean, my Pa se suster, gekry het. Sy het by die stasie gewerk vanaf 1953.

IMG-20180407-WA0004_resized
Die ou Stasiegebou was vol verrassings. Kan dink aan al die papiere wat onder in die kelder gestoor was. Dis ‘n deel van die geskiedenis wat summier verbrand is toe die stasiegebou moedswillig gesloop is. Die ou koper traliewerk en daardie tipiese wagkamer. Treine is daardie dae per morsekode gereguleer. Daar was die pragtige drie-hoekige keramiek waterhouer. Kaartjies is in ‘n kas gehou en die datumstempel van yster moes daagliks op gedateer word. Die Ploegbaas het in die eerste huis gewoon, die ene waarvoor die naam van die stasie staan. Langs die huis was sink kwartiere wat soos ‘n “hostel” was waar die ongetroudes gewoon het. Die Ploegbaas het met ‘n Pomptrollie die spoorlyn ondersoek en herstel.

Oor die jare het die soutpanne by Stella bekende ontdekkingsreisigers en sendeling as besoekers, soos David Livingston en Robert Moffat, gehad. Groot-Oupa Alfred Ernest het op Lonely Hill gebly. Lonely Hill se huis is vandag nog daar – natuurlik erg verwaarloos so op die kant van die soutpanne. Sout is aangery, met donkie-waens na Kameel waar dit dan op die spoortrokke gelaai is. Daardie jare was dit ‘n hout-en-pale gebou Vandag is die soutpanne nie meer produktief nie.

Daar was soms tot 20 busse wat personeel en goedere vervoer het. Die busse het die roomkanne van die plase opgelaai en dit is dan na Kameel gebring waar dit, per spoor, na Vryburg Romerye vervoer is. Die “dubble loaves” was busse wat passasiers en goedere vervoer het. Daar was sitplekke aan die voorkant vir passasiers en dan agter die afskorting is goedere gelaai en na die stasie gebring. Die room en eiers is in die swartroomkamer geberg totdat die trien dit na Vryburg vervoer het. Dit was ‘n soort koelkamer.

Simon wat vir elke okkasie ‘n spesiale uniform aangetrek het. Hy was soort van die “meeter and greeter” van alles wat op- of afgelaai moes word.

Die vuuremmers het aan hake aan die stoepkant van die stasiegebou gehang. Dit was gevul was met sand.

IMG-20160114-WA0000-1
Oom Kleintjie Kleynhans en sy vrou Tant Gertie was van die eerste stasievoorman. Hulle het in die huis waar Ma Floss gewoon het, hulle intrek geneem. Hul Boarder Kollie het oral met hul saam gegaan. Tant Gertie, of soos sy by die laerskool bekend was, tannie Klein, was een van die eerste onderwysers by die laerskool op Kameel.

Daar is tuine om die stasiegebou gemaak en elke jaar was daar kompetisies tussen die stasies om te bepaal wie se tuin die mooiste was, maar dit was nie altyd net werk nie. Almal het na die jaarlikse vuurbol gooi uitgesien. Dit was die tyd wanneer oud en jonk die vuurbolle in die lug bewonder het.

IMG-20180331-WA0006_resized
Stukkie angswekkende geskiedenis was toe die dinamiet trein ontspoor het tussen Kameel en Wirsing-halte. Dit was ‘n groot en gevaarlike gebeurtenis. Die ploegbaas moet die trein dag en nag bewaak.

Kameel-1
Die spoorpredikant lees 805myl van Kaapstad met ‘n hoogte van 4449 voet.

In 2001 stuur Ma Floss vir ons ‘n brief en daarin skryf sy dat haar skrywe kom van die huise tussen treine en tussen spore. Ma het na haar hemelse woning verhuis op Kersdag 2017.

Ma Floss en Pa Gerald het in stasiemeesterhuis gewoon, sedert 2001. Na Pa sy aardse woning verlaat het, het Ma aangebly. Sy was sommer die Stasiemeester of is dit dalk die Burgermeester. Haar tuin was haar trots en menige dae het sy rustig in haar tuin gewoel en gewerk.

Nou is dit ons en Ma se huise en ons het dit goed gedink om die klein kompleksie na ma te vernoem op ‘n heel ander wyse.

Kameel : Huise tussen Treine en tussen Spore

Baie dae het ons die treinspore ge-ondersoek en bewonder. Onthou nog ons eerste besoek aan ons ouers toe Ma verskoning maak vir die klein veldmuisie wat in die huis is. Twee uur die oggend word ons wakker van ‘n snaakse geluid. Dit was nie die veldmuis nie maar ‘n trein wat verby gegaan het. Nodeloos om te sê die veldmuis het ons nooit gepla nie.

Ek onthou Pa Gerald se ontsteltenis toe hulle een middag van Vryburg gekom het en daar was twee trekkers met kettings aan wat die stasiegebou platgetrek het. Die kelder met al die papier van baie jare is aan die brand gesteek en dit het vir dae gebrand. Pa kon nooit ophou praat hoe onnodig dit was nie. Ja vandag lê daar nog steeds van die bourommel van die stasiegebou. Soos dit in ons tye gaan word dinge verwoes maar daar bly altyd ‘n getuienis agter.

Kameel stasie

Ek onthou ouma Hester se Café reg langs die spoorlyn. Dit was die plek waar ons menige dae na skool gaan kuier het. Ouma het so ‘n glas toonbank gehad met ons gunsteling lekkers agter die glas. Daar was appelkose, Wilson toffies en suurtjies. Elke jaar wanneer ouma op vakansie gegaan het, het Ma die Café ge’run’. Dit was vet pret vir ons Finchampies. Wanneer daar ‘n groot bederf was het ons Marie beskuitjies met kondensmelk gekry. Paul wat die kok was het ons bederf met allerhande lekker geroosterde broodjies. Ouma se stoele en tafels het nuwe tafeldoeke en kussingtjies gekry en ons kon sommer so tussen die broodjies huiswerk doen. Later van jare het die kafee toegemaak en die is ook gesloop.

10395169_972898179445050_290501115952712365_n

Klein tyd het ons met die trein gery tot by Devondale. Vir die lekkerte het Ma vir ons padkos gepak. Dan was ons passasiers op die trein na die Landsdienskampe van daardie jare. Jy moes jou eie bedgoed saamvat. Ma het ons toegerus met sulke “fancy” kombers bande. Nogal egte leer. Die nagmerie het begin wanneer ons moes terugkom en die beddegoed kon nie weer in die bande pas nie. Dit was altyd ‘n spesiale uitstappie. Die tikketak van die treinwiele op die spoor is iets wat altyd met my sal bly.

In ons kinderdae was Oom Jan en Ta’Bettie die Stasiemeester. Die hele familie was groot vriende en kuiertye is aangedui met die rooi en wit ranggeer ligte. Wanneer die rooi lig geskyn het het hulle nie kom kuier nie, maar wanneer die wit lig geskyn het was hulle oppad.

Het jy al ooit na die detail van ‘n spoorlyn gekyk? Elke stuk yster vertel sy eie storie.

Vandag is die treine min en is daar vele stiltes tussen die kom en gaan van die treine. Die wissels en afstandborde vertel hul eie storie

Ek onthou die dag toe Ma en Tant Lena die Golf op die grondpad omgegooi het. Dit was naby Devondale. Ma het ‘n lelike sny op haar kop gehad. Tant Lena het die blikkie koeldrank op haar sakdoek gegooi en probeer om die bloeding te stop. Dit was tervergeefs. Daarna het die Oud Cologne te voorskyn gekom en dit het in ‘n mate gehelp. Tant Lena het haar sakdoek by die venster uitgewaai toe sy hoor dat daar ‘n trein aankom. Die treindrywer het op Kameel vir Pa laat weet dat daar ‘n Golf langs die pad op sy dak lê.

Tannie Glen het die poskantoor beman vir baie jare. Dit was ‘n een man poskantoor en sy het alles gedoen. Onthou die koper pype wat bo-op die toonbank was. Terwyl Tannie Glen daar gewerk het het sy gebrei. Haar dogters het die mooiste handgebreide sokkies skool toe gedra en in die winter het hulle fair isle truie gedra.

Die ou spoorkruising was omtrent daar waar die Eskom paal vandag staan. Ons het as kinders graag op die wa en trekker na die stasie gery. Op ‘n dag het ek en Ouboet die wolbale – wat oppad was na die goedereloods – vergesel. Die wolbale moes per trein na Port Elizabeth gaan waar die jaarlikse wolveiling gehou is. Die wolbale is afgelaai en ons het die pad terug plaas toe gevat. Janboel was die Fordson trekker se bestuurder. Daar was twee treine wat reeds in die stasie gestaan het. Stadig het die wa en trekker oor die spore gekruip en skielik “out of nowhere” het ‘n derde trein die stasie ingekom. Kardoef en die Fordson was in twee. Middeldeur. Gelukkig het niemand seergekry nie. Ek glo nie eers ek en ouboet het regtig geweet wat gebeur het nie.

Nou terug na die Huise tussen Treine en tussen Spore

· Ons gaan die huise geleidelik opknap en ‘n bietjie oemph in hulle sit en dan die tuine opknap. Ons glo aan leef uit die aarde en daarom sal daar vrugtebome en groente geplant word. Omdat die grys water nie onnodig in die “French drain” sisteem gelaat moet word nie, wil ons graag die water hergebruik vir die tuine.

· Die huise kry direk krag van Eskom en die nodige pre-paids is beskikbaar by Wilrick Kontrei Winkel.

· Die sonsondergange is besonders en ‘n moet vir enige fotograaf wat dit wil verewig.

IMG-20180403-WA0028_resized

· Daar is ‘n verskeidenheid van voëls wat jy sal leer ken.

· As jy die gevoel het om te skilder en alles op jou eie tyd te doen – sal die pragtige natuur met die groot doringbome met hul grys peule jou motiveer.

17309818_648354115350774_6427601158426468317_n

· Vir ‘n uitstappie is daar ‘n besoek aan die Slag van Kraaipan. Dit so ongeveer n uur se rit Kameel. Dit was die eerste geveg tydens die Tweede Boere Oorlog en die geveg het plaasgevind op 12 Oktober 1899.

wpb4ba50b0_05_06
Op die nag het 800 man ondere die leierskap en Koos de la Rey die Britte oorrompel op die spoorhalte by Kraaipan. Die gepanserde trein met die naam van “Mosquito” of dan Muskiet het 2 7-pond kanonne, gewere, amunisie en rantsoene vervoer.

· So dan en wan, stop die Rovos Rail by die Huise tussen Treine en tussen Spore.

19642506_701441593375359_2279303865911471041_n

· Maak Kameel deel van jou “memories”

As jy weet van iemand of dalk self uitsien na ‘n rustige bekostigbare lewenswyse kontak ons via selfoon 0822642763 en hoor wat beskikbaar is.

Groetnis

Hennie & Sandra

Kameel Stoepstorie: Melktert

Hier by De Oude Huize het ons ons eie melktertstorie om te vertel.

Elke storie het ‘n begin en hierdie ene begin jare gelede toe ek in 1978 skoolgehou het in Port Elizabeth.

Port Elizabeth
Die Edward Hotel se binnehof, Die biblioteek, Duncanstraat huise, en weer die biblioteek.

Die pragtige St Georges park was net ‘n paar meter van my woonstel af en was ek bevoorreg om ‘n see uitsig te hê, maar so ook die baie bekende  Havelockstraat wat ‘n paar winkels gehad het onderandere ‘n tuisnywerheid.  So staan ek eendag in die einste winkel en kyk wat ek kan aankoop vir die tee by my  vriendin wat in Prospect Hillstraat gewoon het. Net so om die hoek van die pragtige St Mary’s Church.

id161_2l

Terwyl ek nog so tussen die koeke en die terte dinge bespiegel kom ‘n Oompie nader geloop, maar ek gaan my gang en toe ek hand uitsteek in die rigting van die melkterte toe vertel hy my sy melktert storie.

“Niggie ek koop toe mos ook so ‘n melktertjie om huis toe te neem.  Die dametjie vra een of twee en ek is ‘n man wat gulhartig is so ek stem in vir twee.   Die ruilhandel vind plaas geld vir tert en daar stap ek uit.  Dit voel vir my al asof ek ‘n paar spoelklippe in die sak het, maar ek gaan vroulief beindruk.  Terwyl ek nou my motor se neus so in die rigting van die huis druk wonder ek darem oor die  tertjies wat nou saam met my oppad huis toe is.  Hulle roep my naam en nooi my om tog net so ‘n stukkie verleiding te proe voordat ek by die huis kom.  Ek het die pad langs die rivier gekies om my huis toe te vat dus was daar min verkeer.  Ek maak toe ‘n plan en proe so ‘n happie  . . . .  wat ‘n skok . . .  daar was geen verleiding in daardie terte nie.  Ek het die kar se deur oop gemaak en die tert laat rol en ek is oortuig hulle het tot binne in die Baakensrivier gerol sonder om enigsins vorm te verloor”.

safavourite_milk_tart

De Oude Huize se melktertstorie begin by tienuur vanoggend toe ons Nederlandse gaste vanaf die Drakensberg arriveer.  Nou moet julle besef die vorige nag se gaste borsel nog tande na ontbyt.  So doller dan ‘n afkop hoender hardloop ons rond en die Nederlanders soek ‘n badkamer – wil net noem daar is ses van hulle.

Uiteindelik is die vorige nag se gaste by die hek uit en die Nederlander koek vir ‘n wyle in een kamer terwyl ons die ander kamers poleer en suig en pof en tof om reg te kry.  Ek moet byvoeg ek floreer nie wanneer dinge bietjie vinnig gaan nie!.

In die proses vergeet ek om beskuit te bak, ek vergeet om ‘n happie vir 4 uur koffie te bak. Hennie bring uitkoms en gooi ons kar se wiele in trurat en jag SPAR toe.  Op TV sê die oompie mos hul bakery is so goed.  Ek stel voor hy kyk vir ‘n melktert – so een soos in die brosjure – ‘n outydse melktert van een of ander tannie.

Binne 20 min is hy uit en tuis.  Hy het die laaste melktert gekry.

Die gaste sit aan vir koffie en koek en ek haal die tert van verleiding uit die dekseltjie bak  . .  glo vir my as die Baakensrivier naby was sou die ding ook gerol het.  Dis in ‘n tinfoelie pannetjie met baie deeg en min vulsel.  Die kalf is in die put ek kerm en verduidelik al die asprekte van ‘n ordentlike melktert en begin die affêre te sny.  Die kors splinter is fladers en die tert breek waar dit nie veronderstel is om te breek.  Ons lig die ding uit sy tinfoelie houer en sit dit in ‘n diepbord en probeer weer.  Groot genade kry ons ses stukkies uit die dingetjie.  Ons skarrel om tee en koffie te bedien en dan neem Hennie die bordjies met tert in en . . . .

Ek weet nou nie mooi wat gebeur het nie maar een stuk was seker so moeg vir my afbrekende kommentaar dat hy of dit mag ook ‘n sy wees besluit om uit die bordjie te spring en karplaks op die vloer te land.

Ons altwee staan verstom . .  daar was net 6 stukkies

Gelukkig onthou ek dat ons vroeër die dag so ‘n ou versnapperingtjie geëet het en daar ‘n stukkie “bêre vir later” oorgebly het.

Vandag bly ons op Kameel en die melktert is steeds ‘n gunsteling hier in die dorre Noordwes.

5217b3a84e874339938ff5a44b76dcf4

Noodeloos om te sê ek is nou verantwoordelik vir enige tuisgebak!

Groetnis tot ‘n volgende keer

Hennie & Sandra

31 December 2017

The year came to an end

We celebrate live and awaits the blessings of 2018.

The Joy of the Season

During our 52 week challenge we have shared with you the following

  • Town hall in Harrismith
  • The old station building in Harrismith
  • The fossilized tree next to the Town Hall
  • A road trip pass Swinburne to Geluksburg
  • The history of Warden Street
  • The Great War Memorial
  • The old Goal on the sport grounds of Harrismith
  • A road trip to Geluksburg
  • The history of Stuart Street
  • The Westley Hall
  • The Toll bridge at Swinburne
  • The Block house or as we call it the Castles of the veld.
  • Odell’s
  • The Club house
  • The steel bridge at Abberfeldy
  • The house of Mary Bland (Granny Bland nee Caskie)
  • Caithness in Stuart Street
  • Freemasonry Southern Cross 1778
  • St John’s sandstone church
  • A road trip to Sandspruit
  • De Oude Huize Yard
  • Cloete and Neveling building in Southey street
  • Bergburgers written by Leon Strachan
  • Train bridge at Swinburne
  • Kaalvoet vrou
  • Royal family visit to Harrismith
  • Debora Retief park
  • Rear-Admiral Maxmimilian John Ludwick Weston
  • Burger Monument
  • The boy with a very long name
  • Farm school on the banks of the Meul river
  • Hamilton bridge in Harrismith
  • Military Insignia around Harrismith
  • The Hills and Mountains around Harrismith
  • The old hotels of Harrismith
  • Annie Baine
  • Road trip to Golden Gate
  • Mountain passes around Harrismith
  • Stain glass windows of the Town Hall in Harrismith
  • Road trip to Verkykerskop
  • A farm museum visit
  • The sustainability of De Oude Huize Yard
  • Platberg
  • M.O.T.H’S
  • Route R74
  • Rensburgkop
  • Free State Harlem
  • Mont Pelaan
  • Plums and Christmas

We hope that you have enjoyed the challenge as much as we did.

Lots of blessings for 2018

Hennie & Sandra

 

Kersfees op Mont Pelaan

Die skrywe van Die Ware Boom het jare gelede in die Tuishuis verskyn. Die skrywe vorm deel van ons gaste-inligtingsleêr. Vandag deel ons dit met die toestemming van Johann met almal.

Kersfees op Mont Pelaan deur Johann Lodewyk Marais.

Op Mont Pelaan, die plekkie tussen Harrismith en Memel waar ek my eerste ses skooljare deurgebring het, is daar elke Desember ‘n “Kersboom” in die Boerevereniging se saal langs die vendusiekrale aangebied. Dit was vir ons, die kinders, die hoogtepunt van die jaar. Meester Olivier se handjie vol plaasskoolleerlinge het dan ook weke voor die groot aand reeds hulle stukke begin oefen vir die Kerskonsert wat plaasgevind het ná die geskenke vroegaand deur Kersvader uitgedeel is.

Vir ons het die groot dag uiteindelik begin aanbreek wanneer ‘n boom die middag voor die “Kersboom” op Meester se plaas Sunnyside, in die rigting van Memel, gehaal moes word. Gewoonlik was die wêreld daardie tyd van die jaar, teen vroeg-Desember, grasgroen en die Drakensberge sagte, blou kurwes in die verte, met haelwit wolke wat oor die aarde uitblom. Dan het al die seuns agterop die bakkie saamgery en om die verlate ou opstal help soek na ‘n geskikte dennetak om af te saag. Hierdie tak – volgens Marthinus Versfeld een “op die toppie waarvan die Bethlehemster van blinkpapier mooi sal vertoon, met genoeg takkies om presente vas te maak” – is dan by die saal afgelaai waar die vrouens dit die volgende dag tot ‘n behoorlike Kersboom versier het.

Ja, die Kersboom moes ‘n denneboom wees, soos dit in talle lande van die wêreld, veral in Europa, ook gebruiklik is. Ofskoon die sielkundige Carl G. Jung beweer dat talle mense hierdie tradisie navolg sonder dat hulle die ware betekenis van die Kersboom ken, het die Kersboom klaarblyklik sy oorsprong in sekere gebruike deur die Egiptenare, Chinese en Hebreërs gehad. Dit het die ewige lewe versimboliseer. In later jare het die ou volke van Europa op 25 Desember, wanneer die son op sy flouste is, groot vure aangesteek en hulle huise met immergroen plante versier. Hulle het geglo dat die sterwende son deur die vuur tot nuwe lewe opgewek word en die lewe van die verborge saad deur die ritueel van groen takke verseker is.

Die eietydse Kersboomtradisie kan veral na Duitsland teruggevoer word, waar dit teen die begin van die negentiende eeu reeds ‘n instelling was.

Daar is seker min mense wat nie met nostalgie aan die “Kersbome” uit hulle kinderjare terugdink nie. Maar hoe leef hierdie tradisie vandag voort? Ons samelewing het al hoe meer materialisties geword, en die sakewêreld huiwer nie om ook Kersfees ter wille van finansiële gewin uit te buit nie: dink maar aan die skaamteloos soetsappige klokkies en klingels wat reeds van voor einde Oktober jaarliks aan ons opgedring word. Hierdie uitbuiting word deesdae tog toenemend raakgesien en mense begin hulle hierteen uitspreek.

Meester Olivier het waarskynlik ook nie presies geweet wat die “ware betekenis” van die Kersboom is nie, want hy het ons nooit daarvan vertel nie, ook nie wanneer hy jaarliks die Kersverhaal voorgelees het voordat die geskenke uitgedeel is nie. Deurdat hy ons saamgeneem het om ‘n tak te gaan uitsoek en te help afsaag, het hy ons egter die geleentheid gegee om ‘n egte ervaring mee te maak, wat waarskynlik op ons ‘n veel groter en blywender indruk gemaak het as wat ‘n duisend woorde sou.

Miskien sal ons en ons gesinne Kersfees ook veel intenser beleef indien ons dit met egte dinge uit die omgewing soos ‘n ware Kersboom, kan vier.

Tot volgende keer

Hennie & Sandra

Die Legende van Rensburgkop

Hierdie legende is geskryf deur Leon Strachan en gepubliseer in die kontrei koerant Maluti Berg en Dal.

Rensburgskop

Die erg onstellende storie van die pa wat sy seun in ‘n klipskeur moes doodskiet om hom ‘n verskriklik pynlike lyding en uiteindelike dood te spaar, was een wat ek saam met moedersmelk ingekry het en waarmee ek grootgeword het.

Ons bly naby Rensburgkop en het ten minste elke tweede Sondag daar verbygery op pad om by my Engelse oupa en ouma op Rainfall te gaan eet. Ek het altyd grootoog opgekyk na die hoë dramatiese gekeepte sandsteenkroon en met ‘n hol kol op die maag gewonder in watter skeur die neerdrukkende storie afgespeel het.

Van Rensburg en sy opgeskote seun het glo ‘n bok vir die pot gaan skiet. Hulle het aan die oostekant van Rensburgkop ‘n troppie rooiribbokke gekry. Die eerste skoot was rakelings mis en die bok het blitsvinnig voete gekry. Pa en seun volg die bokke teen die vloethewel aan die suidoostelike hoek van die loop op, maar die diere swenk vlugvoetig nog hoër teen die kop uit. Die tweede is uitasem agterna tot bo. Die bokke is skaam, Van Rensburg kry egter sy skoot in. Hy kwes die bok swaar, maar die seun sit die hinkende bok agterna. Net toe hy na die bok gryp swenk dit op die rand van die kop skielik wes. Die seun se momentum bring hom tot op die rand, waar hy sy balans verloor en vooroor val. Hy tuimel gillend seker ‘n goeie honderd en tagtig voet daar af.

‘n Erg getraumatiseerde Van Rensburg sien hoe sy kind deur die lug trek en met ‘n siek slag in ‘n skeur land. Gelukkig leef die kind, want hy kreun en huil en skree van die pyn. Hy probeer waansinnig vinnig afklim, maar dis regaf, en hy kom nêrens nie. Hy probeer van die kant af daar kom, en toe van onder af, maar dis ‘n onmoontlike plek – en sy seun lë in ‘n eienaardige posisie, sy rug waarskynlik af.

Helpers en osrieme is haastig gehaal. Van Rensburg is vasgewoel en versigtig oor die krans laat sak. Hy probeer naarstigtelik om onder die effense oorhang in te swaai en sodoende op ‘n lysie te beland waarvandaan hy by sy kind sou kon kom, maar dit was pure verniet. Teen laatmiddag word die seun se kreune al flouer en die aasvoëls begin draai. Naderhand is daar nie meer planne nie. Die genadeskoot klap, ‘n ouer se loodsware hart sou nooit weer herstel nie.

***

Boonop was CM van den Heever se Waar Ruwe Rotse destyds, in my sentimentele tienerjare, ‘n mooi en aangrypende gedig wat realiteit en beelde van die storie opgetower het.

Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo ‘n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip ‘n voet en drillend val ‘n roer…
‘n skerp geskuur – ‘n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp ‘n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward…sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

‘n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind…en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs…die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by…die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet…en nou…”

‘n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans ‘n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”…’n skoot gedemp en dof…
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil…die aasvoëls kras…’n vader staar.

***

Met die skryf van Abe Sparks se storie in Blafboom (1999) soek ek na verwysings vir die Rensburgkop-legende. Daar is geen gerapporteerde weergawe van die verhaal in die destydse Harrismith News (tot 1903) of die Harrismith Chronicle (sedert 1903) nie. Ook geen rekord daarvan in die twee uitstekende geskiedenis bronne van ons omgewing (FA Steytler se Die Geskiedenis van Harrismith of Blanche Hawkins se The Story of Harrismith) nie. Inteendeel, Hawkins verwys daarna, noem dat sy ook geen bewyse daarvan kon kry in haar navorsing nie en spekuleer dat dit kroegstories is.

‘n Soeke na ‘n Van Rensburg wat in die geweste geboer het, was ook vrugeloos. Die landmeter (gewoonlik van Britse, Duitse of Nederlandse herkoms) wat die plaas in die 1850’s afgemeet het, het waarskynklik van Rynsburg (Nederland) of Rendsburg (Duitsland) af gekom en vandaar die naam.

In D J Opperman se Junior Verseboek merk die samesteller op dat dit ‘n volksvertelling is wat in die bergstreke van verskillende dele van Suid-Afrika voortleef. In een van die studiereekse oor daardie Junior Verseboek word gesê dat ‘n ou en bekende legende deur Van den Heever spannend verhaal word.

In ‘n onlangse bespreking van die storie op Facebook het baie mense gereageer. Almal ken die storie, maar verskil dramaties oor waar dit plaasgevind het. Die volgende plekke is genoem: Volksrust, Danielsrus naby Bethlehem, Kogmanskloof (tussen Bonnievale en Montagu), naby Montagu in Ashton (Winterhoekberge) Golden Gate, Rensburgskop en Gordon Rots in Paarl Berg.

Van den Heever het glo sy gedig op ‘n verhaal wat in Smithfielddistrik by Aasvogelkop, naby Gladdedrif (Caledonrivier) oorvertel word, gebaseer. Dit wil voorkom asof die legende die prominentste by Aasvogelkop en Rensburgskop is.

‘n Ander bekende Van Heerden, Ettienne, se Toorberg is klaarblyklik ook deur die legende geiinspireer (‘n vader skiet sy seun wat in ‘n boorgat vassit).

In ons geweste is die legende van Rensburgkop wyd bekend en word dit sonder bevraagtekening geglo, van Johannesburg af met die N3 langs tot in Durban. In so ‘n mate dat die SAUK destyds die drama The Mountain, wat oor die legende handel, hier geskiet het met Sandra Prinsloo in die rol van die seun se ma. Die filmspan het in die plaas Stirling (net oos van die kop) se woonhuis gebly tydens die verfilming.

Alles dui daarop dat dit ‘n sogenaamde ‘urban-legend’, of stoepstorie, is.

 

Dankie aan Biebie de Vos vir ‘n fotos wat ons gebruik het en ook fotokrediet aan die Bald Ibis staproete.

Tot ‘n volgende keer

Hennie & Sandra