Kameel Stoepstorie: Kameeldoringbome

Soos julle weet het ‘n Kameeldoringboom yslike dorings. Vir ‘n klein dogtertjie is dit sommer allermintige dorings. Onthou tot vandag dat ‘n doring in die sagte deel van my voetsool gesteek het.  Dit het gereën en ons het in die water geloop. Die nagevolg was pynlik. Ma Floss het alles probeer maar die doring het vasgesuig vir dae. Vandag nog is die letsel onder my voet die bewys van die pyn en lyding.

n Kameeldoringboom of dan Vachellia Erioloba se dorings van naderby. 

In Suid-Afrika is die Kameeldoringboom is ‘n beskermde boom. Dit lewe vir baie jare. Van die bome op die plaas was daar toe ons as klein kinders daar kom woon het. Niks krap hulle omstandighede om nie. Nie droogte of baie reën nie. Die penwortel roei baie diep en die maksimum van so ‘n penwortel is 68m.

Die Doringboom verskaf kos, skuiling, plek vir die vee en voels. Dit het ook medisinale voordele vir die mens. Pierneef het graag die bome geskilder.

Groot erkenning word aan die webtuiste gegee vir die skildery naamlik die Dyman Gallery

Jare gelede wou Pa Gerald ‘n boom uithaal wat in die pad was van ‘n ontwikkelling. Die trekker – nogal met so ‘n dakkie – en kettings is ingespan. Die trekker het gekreun en gesteun, maar toe die ketting breek en amper vir Ouboet teen die kop tref  Pa oorgegee. Die boom staan nog vandag heel gemaklik op sy plek.

Die kameeldoringboom wat die stryd teen ‘n trekker en ‘n ketting gewen het.

Die boom dra die mooiste grys peule. As jy desperaat genoeg is kan jy die peul oopbreek en die swart sade uithaal en fyn maal en gebruik as ‘n plaasvervanger vir koffie. Die fyn gemaalde saadpoeier is ook glo goed vir oorinfeksie. Gebrande as van die bas van die boom is goed om ‘n hoofpyn te genees. Die sade word ook gebruik as ‘n voer vir die vee. Die gesegde lei dat ‘n Kameeldoringboom nie sal groei voordat dit deur die maag van ‘n bees gegaan het.

Die peule met hul sagte grys kleur.

Die bygelowe het ook nie die Kameeldoringboom verby gegaan nie. Daar word geglo dat weerlig eers ‘n doringboom sal slaan voordat dit anderbome sou raak slaan. Die storie glo ek swaar. In ons jong dae het die weer 14 van Ma Floss se beeste onder die Kareebome dood geslaan. Die Kameeldoringboom was ongeskonde.

Die Versamelvoëls maak maak masiewe neste in die Kameeldoringbome. Die nes lyk soos ‘n groot hoop gras wat in die boom sit.  Wanneer jy onder die “hooimied” staan sien jy die ingange na die verskillende kamers. Dit lyk nogal soos ‘n heuningkorf. Honderde families woon in so ‘n nes en dit is ‘n gesig om van nader te beskou. Hierdie neste word vir generasies van voëls bewoon.

Ons huis is natuurlik in die skadu van ‘n Kameeldoringboom gebou.

Tot volgende keer

Sandra

Kameel Stoepstorie: Die Lighuis

Dis warm en droog in die Noord-Wes Provinsie van Suid-Afrika. Ons het nog nie ‘n dag beleef onder 30oC nie. Daar is sulke warm Weste winde wat waai en alles verdor. Die boere se vee moet voer kry en elkeen maak ‘n plan en kyk na die wolke en buig laag en pleit by die Groot Genade vir reën op die regte tyd.

So in die week sit ons op die stoep en warm kry. Ons bekyk die voëls in die tuin. Die Indian Myna paradeer ook op en af en intimideer die ander geveerde gaste. Dit is toe dat ons opmerk dat die Myna kort-kort hoog, na die ou Spoorweë Werfligte, toe vlieg. Jou werklik daar is ‘n gat in die lig en die paartjie is besig om huis op te sit binne in die lig. Die ligte staan so ongeveer 10 meter hoog.

DSC_0066

Ons hou hulle dop en besluit dat die ligte seker ‘n tipe broeikas vir Myna’s moet wees. Dis ‘n heen en weer gevlieg en alles waarop hulle beslag kan lê word ingesleep in die nes. Net so skielik as wat die gewoel begin het, kom dit tot ‘n end. Dan word kossies aangedra, wat weer bydra tot ‘n ander bedrywigheid.

Vroeg oggend is daar egter ‘n lawaai van ‘n ander aard. Die lighuis is in rep-en-roer. Ons opmerking is dat daar huismoeles is. Moeksie is nie tevrede met die omstandighede en vereis ‘n lugversorger. ‘n Geskree en gegil wat baie benoud klink.

DSC_0125

Jou werklik daar hang groot vere by die gat uit. Die een Myna is binne-in die lig en die ander buite. Altwee gaan te kere soos besetenes. Die vraag by ons ontstaan sou dit nou deel van die landsbesetting-sonder-vergoeding, wat op almal se lippe is, wees?

Die Myna’s gaan nie net sommer oorgee nie. Beide veg vir hul toekoms. Die aanval duur ongeveer 4 ure in ‘n temperatuur van 35oC. In hul lighuis was dit verseker baie warmer. Dan teen middag-ete kom daar ‘n wending. Die nes is nou weer toeganglik vir beide die Myna’s. Kossies word aangedra en die heen en weer gevlieg neem toe. Die vrede daal weer op Mnr en Mev Myna se Lighuis.

Nou wonder ons wat was die bohaai dan oor. Die antwoord kom sommer skielik wanneer twee voëls uit die lig aarde toe kom. Dit het my aan ‘n ou oorlog-fliek laat dink wanneer die Fokkers so op hul vyande afgeduik het. Die grootste van die twee land met ‘n plof onder die lig. Dis ‘n heelwat groter voël. Dit is ‘n Koekoek.

Die Afrikaanse koekoek is ‘n somertrekvoël. Dit is tussen 30 – 32cm lank en 95 – 112g groot. (African Cuckoo). Die voël is ‘n broeiparasiet en gebruik ander voëls as broeigasheer.

DSC_0169

Tot volgende keer

Sandra