52 weke uitdaging: Kameeldoringbome

Soos julle weet het ‘n Kameeldoringboom yslike dorings. Vir ‘n klein dogtertjie is dit sommer allermintige dorings. Onthou tot vandag dat ‘n doring in die sagte deel van my voetsool gesteek het.  Dit het gereën en ons het in die water geloop. Die nagevolg was pynlik. Ma Floss het alles probeer maar die doring het vasgesuig vir dae. Vandag nog is die letsel onder my voet die bewys van die pyn en lyding.

n Kameeldoringboom of dan Vachellia Erioloba se dorings van naderby. 

In Suid-Afrika is die Kameeldoringboom is ‘n beskermde boom. Dit lewe vir baie jare. Van die bome op die plaas was daar toe ons as klein kinders daar kom woon het. Niks krap hulle omstandighede om nie. Nie droogte of baie reën nie. Die penwortel roei baie diep en die maksimum van so ‘n penwortel is 68m.

Die Doringboom verskaf kos, skuiling, plek vir die vee en voels. Dit het ook medisinale voordele vir die mens. Pierneef het graag die bome geskilder.

Groot erkenning word aan die webtuiste gegee vir die skildery naamlik die Dyman Gallery

Jare gelede wou Pa Gerald ‘n boom uithaal wat in die pad was van ‘n ontwikkelling. Die trekker – nogal met so ‘n dakkie – en kettings is ingespan. Die trekker het gekreun en gesteun, maar toe die ketting breek en amper vir Ouboet teen die kop tref  Pa oorgegee. Die boom staan nog vandag heel gemaklik op sy plek.

Die kameeldoringboom wat die stryd teen ‘n trekker en ‘n ketting gewen het.

Die boom dra die mooiste grys peule. As jy desperaat genoeg is kan jy die peul oopbreek en die swart sade uithaal en fyn maal en gebruik as ‘n plaasvervanger vir koffie. Die fyn gemaalde saadpoeier is ook glo goed vir oorinfeksie. Gebrande as van die bas van die boom is goed om ‘n hoofpyn te genees. Die sade word ook gebruik as ‘n voer vir die vee. Die gesegde lei dat ‘n Kameeldoringboom nie sal groei voordat dit deur die maag van ‘n bees gegaan het.

Die peule met hul sagte grys kleur.

Die bygelowe het ook nie die Kameeldoringboom verby gegaan nie. Daar word geglo dat weerlig eers ‘n doringboom sal slaan voordat dit anderbome sou raak slaan. Die storie glo ek swaar. In ons jong dae het die weer 14 van Ma Floss se beeste onder die Kareebome dood geslaan. Die Kameeldoringboom was ongeskonde.

Die Versamelvoëls maak maak masiewe neste in die Kameeldoringbome. Die nes lyk soos ‘n groot hoop gras wat in die boom sit.  Wanneer jy onder die “hooimied” staan sien jy die ingange na die verskillende kamers. Dit lyk nogal soos ‘n heuningkorf. Honderde families woon in so ‘n nes en dit is ‘n gesig om van nader te beskou. Hierdie neste word vir generasies van voëls bewoon.

Ons huis is natuurlik in die skadu van ‘n Kameeldoringboom gebou.

Tot volgende keer

Sandra

Stoepstorie 12: Ouma Barlow en die dorp Stella

Die dorp Stella het wonderlike kinderdae herinneringe vir my. In besonder Brandstraat. Dit was die straat waarin Oupa Jimmy en Ouma Sannie se huis was. Nommer 10. Vandag lyk Brandstraat heel anders as wat my kinderdae se onthou dit voorgestel het.

DSC_0129
Brandstraat

Oupa en Ouma se huis was wit geverf en het so ‘n wye voorstoep waarop Oupa Jimmy graag gesit het en die wêreld bespiet het. Oupa het so ‘n skaaphak kierie gehad waarmee hy jou sommer so nader gehak het. Dit is die straat wat gelei het na die ou klipsaal. Die straat het sommer net daar by die klipsaal gestop. Vandag sou ons praat van ‘n cul-de-sac, maar daardie dae was dit ‘n vreemde woord. Die saal was die middelpunt van die dorp. Dit is nou naas die kerk. Daar was konserte en vergaderings gehou en natuurlik ook het die Vroue Landbou Vereniging hul vergaderings gehou. Ouma Sannie was ‘n raakvatter tussen die vroue van die VLV.

Stella klipsaal.jpg-001
Die Klipsaal word vandag gebruik as ‘n stoor deur die Munisipaliteit.

Brandstraat se huise het elkeen sy eie styl gehad. Almal was wit geverf. Almal naby die straat. Sommer so naby genoeg dat jy met die uit loop slag in die straat was. Daar was die Celliers huis op die punt naaste aan die klipsaal. Die huis het ‘n stoepie tussen die twee kamers wat soos vleuels op die stoep uit geloop het. gehad. Dan was daar die huis met die geboogde sinkplate oor die stoep. So ‘n regte Karoo-styl stoep. Die stoep waarop die oompie sy pyp gesit en rook het. Die hoekhuis lyk vandag nog baie dieselfde. ‘n Lekker stoep met die lae muurtjie.

Die water in Stella is brak want die soutpan lê naby die dorp. Vir baie jare is hier sout ontgin. Ongeag die brak water was daar heel party windpompe in die dorp, want almal het groentetuine gemaak. Ouma Sannie het ‘n Lemon Verbena by die agterdeur gehad. Dit was ‘n fees om die blare tussen ons hande te vryf en dan die reuk vir die hele dag saam te dra. ‘n Lekker vrugteboord was oupa se pride and joy. Die ingelgde geelperskes met dik vla, was ons kinders se gunsteling.

Oupa en Ouma was altwee kinders van die Willowmore, Patensie en die Gamtoos, soos Oupa het altyd na die Kolonie verwys as sy grootword wêreld gepraat het. Hy en Ouma het mekaar van kindsbeen geken. Hy het die plaas Langverwagt naby Kameel gekoop. Op hul oudag het hulle op Stella afgetree.

Ouma het geduld gehad met ons. Sy het die fynste kant hekel met sulke fyn gare en ‘n blink hekelpen. Dollies was ‘n groot gunsteling. Elkeen het die mooiste glaskrale gehad. Dit het geklingel wanneer sy die koffie ingebring het en dit oor die melkbertjie daarmee toegemaak was. Sy het geduld gehad om my te leer hekel – hotklou en al.

Die kombuis het ‘n houttafel gehad. So wit geskrop naby die koolstoof. In die eetkamer was ‘n bal-en-klou tafel wat ‘n verlengstuk gehad het. Op Sondae was die tafel gedek met ‘n gehekelde tafeldoek en haar beenhef eetgerei. Sy sou op ‘n oggend bel en sommer so terloops sê dat sy my pa se gunsteling skaapboud gaar gemaak het en ons moes oorkom vir ete. Sy kon selfs haar skoonseun onder ‘n wip vang met haar kos wat altyd vol verrassings was. Wanneer dit vetkoekdag was, was dit wonderlik om die vormpies van die vetkoeke in die olie te probeer assosieer met ‘n diertjie. Eendjies en hasies was altyd ‘n reg raai.

Ouma het lang hare gehad. Sy het dit in ‘n lang vlegsel aan die eenkant van haar kop gevleg en dan om haar kop gedraai. Na Oupa oorlede is en Ouma by haarself gewoon het, het die dogters op ‘n dag besluit – Ouma se hare moes kort geknip word. Wat ‘n tragedie was dit. Ouma kon nooit met die kort hare vrede maak nie. Ek het baie dae my tas gepak om by ouma te gaan bly maar het maar elke keer weer terug gekom huis toe.

Ouma Sannie het ook die swaar van die lewe geken. Haar een dogtertjie is oorlede en twee van Ouma se seuns is tydens WWII oorlede. Ek het altyd gewonder hoe sy dit oorleef het want daar was altyd ‘n glimlag op haar gesit.

P432_AUX_2000_1601
Oupa en Ouma met hul kinders op hul 50ste huweliksherdenking

Ouma het nog in die tyd van briewe skryf gelewe. Onlangs het ek hierdie stukkie kosbaarheid van ‘n niggie ontvang. Die brief is gerig aan haar suster, Tant Pollie, wat in Uitenhage gewoon het. Die inhoud is kosbaar!

Tant Sannie Brief P1

Tot volgende keer

Sandra