Stoepstorie 16: Die Lighuis

Dis warm en droog in die Noord-Wes Provinsie van Suid-Afrika. Ons het nog nie ‘n dag beleef onder 30oC nie. Daar is sulke warm Weste winde wat waai en alles verdor. Die boere se vee moet voer kry en elkeen maak ‘n plan en kyk na die wolke en buig laag en pleit by die Groot Genade vir reën op die regte tyd.

So in die week sit ons op die stoep en warm kry. Ons bekyk die voëls in die tuin. Die Indian Myna paradeer ook op en af en intimideer die ander geveerde gaste. Dit is toe dat ons opmerk dat die Myna kort-kort hoog, na die ou Spoorweë Werfligte, toe vlieg. Jou werklik daar is ‘n gat in die lig en die paartjie is besig om huis op te sit binne in die lig. Die ligte staan so ongeveer 10 meter hoog.

DSC_0066

Ons hou hulle dop en besluit dat die ligte seker ‘n tipe broeikas vir Myna’s moet wees. Dis ‘n heen en weer gevlieg en alles waarop hulle beslag kan lê word ingesleep in die nes. Net so skielik as wat die gewoel begin het, kom dit tot ‘n end. Dan word kossies aangedra, wat weer bydra tot ‘n ander bedrywigheid.

Vroeg oggend is daar egter ‘n lawaai van ‘n ander aard. Die lighuis is in rep-en-roer. Ons opmerking is dat daar huismoeles is. Moeksie is nie tevrede met die omstandighede en vereis ‘n lugversorger. ‘n Geskree en gegil wat baie benoud klink.

DSC_0125

Jou werklik daar hang groot vere by die gat uit. Die een Myna is binne-in die lig en die ander buite. Altwee gaan te kere soos besetenes. Die vraag by ons ontstaan sou dit nou deel van die landsbesetting-sonder-vergoeding, wat op almal se lippe is, wees?

Die Myna’s gaan nie net sommer oorgee nie. Beide veg vir hul toekoms. Die aanval duur ongeveer 4 ure in ‘n temperatuur van 35oC. In hul lighuis was dit verseker baie warmer. Dan teen middag-ete kom daar ‘n wending. Die nes is nou weer toeganglik vir beide die Myna’s. Kossies word aangedra en die heen en weer gevlieg neem toe. Die vrede daal weer op Mnr en Mev Myna se Lighuis.

Nou wonder ons wat was die bohaai dan oor. Die antwoord kom sommer skielik wanneer twee voëls uit die lig aarde toe kom. Dit het my aan ‘n ou oorlog-fliek laat dink wanneer die Fokkers so op hul vyande afgeduik het. Die grootste van die twee land met ‘n plof onder die lig. Dis ‘n heelwat groter voël. Dit is ‘n Koekoek.

Die Afrikaanse koekoek is ‘n somertrekvoël. Dit is tussen 30 – 32cm lank en 95 – 112g groot. (African Cuckoo). Die voël is ‘n broeiparasiet en gebruik ander voëls as broeigasheer.

DSC_0169

Tot volgende keer

Sandra

Stoepstorie 11: Naamborde en Padpredikante wat elk sy eie storie vertel

Die lewe in die stad is altyd so vining. Jy moet jou haas van die een uiterste na die ander kant. Op die Platteland is dit heel ‘n ander storie. Hier is ‘n ander rustigheid wat ‘n invloed op almal het. Jy kom waar jy wil wees op jou eie pas. Jy maak gebruik van wat beskikbaar is. Die afgelope twee weke het ons ook hierdie spesiale bederf beleef. Die man wat vriendelik wuif maar sy fiets penorent hou. Ons het op stofpaaie gery, dan weer op ‘n heel oordentlike grondpad met kareebome langs die kant. Die Karee’s laat jou so half-en-half beskut voel teen die elemente daarbuite. Ons het op ‘n twee-spoor pad gery. Hier het almal tyd om te groet, beleefheid en oordentlikheid is aan die orde van die dag. Daar was natuurlik ook ‘n hoofweg en ‘n hobbelrige teerpad. Dan is daar natuurlik Randall wat sy vervoermiddel op die spore hou.

Ooral langs die paaie kom ons padpredikante teë. Elkeen dui ‘n rigting aan maar so ook vertel elkeen dat die pad na êrens lei. Die name laat ons glimlag want daar sal verseker nuwe stories wees om te vertel. Nuwe geleenthede en nuwe wind rigtings om in te slaan. Ons gaan nog baie rondrits dit is verseker.

Wanneer die son water trek is dit vir eers tyd om na Kameel terug te keer. Terug na die Huise tussen Treine en tussen Spore.

Tot volgende keer

Hennie en Sandra

Stoepstorie 10: Devondale tot Kameel

Al ooit gehoor van Devondale?

Die stasie is 25km vanaf Kameel. Vandag is daar min oor van die eens tuiste en besigheid van my Oupa Victor en Ouma Hester. Na hulle huwelik het hulle Devondale Store besit en in die huis langs die winkel gewoon. In die goeie dae van Devondale was daar die watertenks waar die stoomtreine water gevat het. Ek onthou nog die ou Convent wat een van die groot geboue in die omgewing was.

Devondale-1

Wanneer daar by die familie op Kameel gaan kuier is, het oupa en ouma met die motorfiets en side-car gery.

IMG-20180505-WA0006
Oupa Victor op die motorfiets reg om die pad te vat Kameel toe, maardaar was darem tyd vir ‘n foto sessie.
IMG-20180505-WA0005_resized
Dan was dit Ouma Hester se beurt in die syspan. Sou wat wou gee om daardie hoed van nader te kon besigtig.
Motorfiets 1
Ouma op die motorfiets. Kyk die leer kamaste. In my opinie sien ons altyd ons oumas en oupas as baie streng maar as ek so na die foto’s kyk haal ek my hoed vir hulle af. Niks kon hulle onderkry nie.

Ek is seker hulle het by al die bekendes van die omgewing gekuier. Aunt Ethel (oupa se suster) en Uncle Rex Collins het, net oorkant die spoor op Devondale, gewoon. Ek is seker dat daar ook gekuier is by Uncle Alfi and Ant Nellie Fincham, wat op Kinderdam gewoon het. Ook onthou ek die Starkes van Curnow. Daar was die Barlow’s (my ouma en ouma aan moederskant) van Langverwag.

Pa Gerald het altyd vertel van die spook op Devondale – ouma en oupa het na die 4 uur tee gaan stap. Toe hulle terug kom was die tafeldoek onder die koppies en teepot uitgetrek en bo-oor alles gegooi, sonder dat iets uit sy plek was. Daar was natuurlik die fosfor-ligte op die drade waarvan Ma Floss vertel het.

Victor en Hester September 1940
Groot-Oupa Alfred Ernest is in 1937 oorlede en Oupa en Ouma Fincham het toe Kameelbult toe getrek.
DSC_0424-1
Die dae op die plaas was gevul met daaglikse plaas aktiwiteite. Die eerste trekker was ‘n groot aanwins.
IMG-20180427-WA00242
Die dorsmasjien

Kameel het ‘n winkel gekry – Mr McKay se winkel. Mr McKay was natuurlik Tannie Glen se pa. Hy het vir jare die winkel besit, maar die beste was die stories oor die mak kraanvoël, Jock, wat almal gejaag het.

IMG-20180427-WA00312
Oom Ernest en Tannie Glen op hul troudag. Tannie Glen was ‘n legende in die plaaslike poskantoor waar sy vir jare gewerk het.

Die winkel is later jare deur Oom Daan en tant Lizzi bedryf. Nadat hulle vertrek het, het oom Russel en tannie Corrie Olewage die winkel bedryf. Later jare sou my ouers die winkel bedryf. Nadat hulle genoeg gehad het, het Patrick, my broer die winkel bedryf en later jare het hy dit verhuur. Toe die laaste huurders van die winkel hom, na vele kere gesoebat het om die winkel terug te neem, het hy die bul by die horings gepak en die deure van Wilrick Kontrei winkel geopen.

10609518_299227970263392_6896958083855982817_n
Kameel se “Mall” ‘n kontrei-winkel, posagentskap, ATM en die bottelstoor

Daar was ook die Italiaanse kryggevangenes wat op die plaas kom uithelp het na die Tweede Wêreld Oorlog. Pa Gerald het hulle by Zonderwater gevangenes gaan haal en weer teruggevat. Renato het vir baie jare kontak met die familie gehou.

IMG-20180427-WA0047

IMG-20180427-WA0033-1
My Pa, Gerald staan links
IMG-20180427-WA0033-3
Pa Gerald, Oupa Victor, Ouma Hester, Jean voor en die Italiaaners.

Oupa Victor is in 1954 oorlede en ouma het die Cafee langs die treinspoor begin.

Kameel is een van die dae ek en Hennie se nuwe tuiste ons hoop om in die voetspore van ons ouers, groot-ouers en geliefdes te kan stap.

Tot ‘n volgende keer

Sandra en Hennie

IMG-20180427-WA0033-2

Stoepstorie 2: Traveling Companion

Wanneer ek ‘n Volkswagen Beetle op die pad raakloop dan kyk ek altyd waar sy flikkerligte sit. Julle weet daardie armpies wat so uitgeskiet het langs die deure wanneer daar gedraai word. In Engels is dit semaphores.

89c657fa5968a12a0a0f990b369090bb--the-window-vw-bugs

Pa was die “traveler” in ons familie. Hy sou niks daarvan dink om ons in die kar te laai en êrens heen te ry. Ons eerste kar was ‘n Borgward – ‘n besonderse motor wat op voco-paraffin kon loop.Aust76

Daar was die oranje VW Beetle met die “dog-box”. Ek onthou die reis af Jeffereybaai toe – die bagasie is in die neus van die Beetle gelaai en dan het Pa die neus van die motor in die regte rigting gedruk. Ons plek was bespreek in die Jeffreys Bay Hotel. As ek reg is is dit vandag die Savoy Hotel. Pa het op gevoel gery so het ons Jeffreysbaai ge”overshoot” en in die destydse Ferreiratown gestop. Gelukkig was daar ‘n vriendelike man wat Pa in die regte rigting gestuur het.

Dan was daar later die bootvaart op die Knysna Lagoon en die gety wat ons wou intrek. Janboel en Julian wat moes stoot dat hulle bars om die boot op droeë grond te kry.

755f439d035c558f2feeed74732f9dae
Al die kere wat ons gaan springhase jaag het met die Willy’s Jeep. Dit was ons Saterdag-aand uitstappie op die plaas. Menige aande het ons met Jeep en al in ‘n gat te lande gekom. Dit was pret om met ‘n groot gesukkel weer huis toe te hinkepink.

Die Nuwejaar kamp by West-end dam met pa se 8-ton lorrie en die wit Engelse tent. Die blou lorrie sou die naweek van Nuwejaar gelaai word met onder andere beddens wat kon opvou in sulke oulike amperse tafeltjies, die nodige potte en panne en natuurlik die wit tent. Daar is visgevang en geswem. Later van tyd was daar ‘n bootjie waarmee die vissermanne se hoeke die water ingeneem is. Dit was in die tye voor sonbrand beskerming en gewoonlik was daar ‘n paar erg verbrande rooi lywe.

11904675_433157530203768_4462256557872767105_n-1
Die Engelse tent het ‘n spesiale plek gekry by Kameel Rust & Vrede Bed en Ontbyt

Die kuier by tant Meraai in die Gamtoos en die tabak-vlooie wat ons byna opgevreet het. Ma het so in ‘n fluister stem vir Pa vertel van die vlooie maar ai, met Tant Meraai se ore was daar geen fout nie.

Dan onthou ek ook die kuiers by oom Salmon en Tant Pollie op Uitenhage. Tant Pollie was my ouma Barlow se suster. Vandag nog is Tant Pollie se appeltert deel van De Oude Huize Yard se spyskaart. Ek onthou die tafel in die kombuis waar ons almal saam gekuier het en stories van die Kolonie vertel het.

Daar was die tye wat ons laat-laat middag by die huis weg ry om by Popeye, soos my Pa my Ma genoem het, se familie in Skurweberg te gaan kuier. Tant Madeleine en oom Was het by Skurweberg gebly. So lekker teen die klip koppie. Daar is gekuier om Grand-cru en roomys.

Soms het ons 21h00 van die plaas gery om op Cypress in die Steynsrus distrik te gaan kuier. Dit was waar Fritzie en Rhoda geboer het. Ontbyt aan die tafel in die voorhuis was altyd ‘n ondervinding met Fritzie wat vir elkeen ‘n snybrood gesny het. Nooit meer as een sny op ‘n slag. Vir ons Finchams was dit nogal vreemd want dit was ons stapelvoedsel. Ek onthou die uitstappie met die Bluebird Datsun in die Golden Gate. Daarna was Pa Gerald nooit weer gretig om Golden Gate te besoek nie.

Op ‘n ander toer is ons na Francistown in Botswana, daardie kuiers in die destydse Suid-Rhodesia. Die Vic Falls, waar ons op ‘n bootvaart op die meer was. Een van die passasiers se kinders het ‘n aap geterg en is gebyt. Toe moes almal terugkeer wal toe. Pa het ons die Valley of Ruins en Matopo Hills gewys. My gunsteling plek was Leopards Rock omdat dit so ‘n pienk kleur geverf was en ek het aan Monaco gedink.

Daar was al die rally’s saam met Cecil en Paaijapan. Persoonlik dink ek daar is klein-kinders met Av-gass in hulle bloed. Pa en Ma het een aand in die middel van die winter by ons oorgeslaap. Juis met die hele Rally konvooi. Pa het voorgestel dat die manne buite sou slaap maar het nie rekening gehou met die Vrystaatse koue nie. Die nag het die manne voor die kaggel geslaap. Dit het nogal ‘n gesnork uit die boonste rakke gewees.

Pat en Pa wat “flips” in DVZ ZA oor Kameel geneem het. Dit was vir Pa groot vreugde en hy het later jare vertel hoe Kameel en die omgewing uit die lug lyk. Daar is later ‘n langer aanloopbaan deur die mielielande gemaak. Later jare sou Pat, Ma, ek en Hennie gaan blomme kyk in Springbok en ja ek kan ‘n noodlanding aftik op my lys.

Daar was die kuier in Namibia by Susan en Derick. Die plaas was op Gobabis en toe die terugrit aangepak moet word was die motor se battery pad en al genade was die Landdrover. Nodeloos om te sê, Derick het ‘n plan gemaak, ‘n matras is vir Ma en Susie agter op die Landdrover gesit. Hulle moes darem in gemak reis. Ma kon nooit uitgepraat raak van hoe sy en Susie die hele pad terug Windhoek toe gegiggel het.

Daar’s al die kuiers by Mike en Hes in Bloemfontein en Mike wat Pa na elke “scrapyard” in Bloem moes neem. Dis seker waar ek my liefde vir ‘n skrootwerf gekry het.

Daar was kuier in Harrismith en pa se woorde aan Hennie – “Hendrik ek weet nie wat jy betaal het nie maar ek is seker jy het te veel betaal”

Oupa wat Pedri geleer het van toast, bacon en eiers – sy gunsteling!.

CO9YAY0VAAAVWWF-1
Wat ‘n lewensrit was dit nie!
d6a3a05f357542dfe8b3e2255ca87538
When you give your children knowledge, you are telling them what to think. When you give your children wisdom, you do not tell them what to know, or what is true, but, rather, how to get to their own truth.

Tot ‘n volgende keer

Hennie & Sandra

De Oude Huize Yard